Die mens het verval in iets waarvoor ons nooit bedoel was om te wees nie. Hierdie gejaagde, selfgesentreerde, selfsugtige spesie. Nie net die mens nie, maar ek is self baie skuldig daaraan. Dag na dag sit ek vas in senutergende verkeer wat my hele dag omkrap en my diep binne myself laat sondig. Dis nou waar die vloekwoorde die dame in my laat verdwyn. Ek jaag om op plekke te wees teen 'n sekere tyd en deur hierdie gejaag is daar soveel dinge wat ek miskyk en die lewe hardloop by my verby sonder dat ek dit besef. Die laaste week is die verkeer die ergste wat ek dit nog gesien het. As gevolg van padwerke natuurlik. Reg rondom ons kompleks, staan karre maklik 'n uur of meer om deur die verkeer te kan kom. Na werk wil almal by die huis kom. Jou man, jou kinders wag. Jou prentjie-mooi huis met die tydskrif aandete staan reg en jy kan skoene uitskop, onder warm komberse inkruip en aandete saam jou gesin geniet. Ons is nou in 'n tyd waar dit al hoe kouer word en die winter klop reeds aan ons deure. Ongeag van al hierdie negatiwiteit, taxi's en ongeskikte mense wat nie soos die res kan wag nie en 'n "uur aan 3km" verkeer, dwing dit my tot stilstand. Wat help dit tog om myself te vererg? Ek gaan in elk geval later as gewoonlik by die huis kom, aandete moet maar wag. Al wat ek soek is frustrasie-kos, 'n lekker warm stort en my warm bed waar ek en my man kan cuddle en mekaar kan warm hou in die bittere koue. Soos wat die verkeer my tot stilstand dwing, sing ek sorgloos saam die vroeg aand musiek op my radio. Skielik word my dagdroom onderbreek deur hierdie man wat langs my staan. Vinnig kyk ek of daar nie iets waardevols op my sitplekke lê nie en so sluk ek vinnig aan my Woolies bite-sized pannekoekies om die skuldgevoel te vermy. Die verkeer beweeg teen 'n slakkepas, nog 'n taxi druk voor my in en ek kyk in my truspieëltjie en sien die einste man bedel nog by elke kar agter my. Paar minute later, sien ek hierdie man het moed opgegee en stap sleep-sleep oor die pad, brug se kant toe en ek besef, dit is waar hy nag na nag slaap. Nie in 'n gemaklike, warm bed en met winterskomberse nie, maar met plastieksakke en nat bokse. En ek? Ek jaag en vloek en skel deur die verkeer om by die huis te kom sodat ek my soet patat sop wat ek al vanoggend begin voorberei het, te kan eet saam my man. Terwyl ek die sop opwarm en die koppie varsroom afmeet, spook hierdie man by my. Alhoewel ek hom geïngoreer het, het ek die nood in sy oë raakgesien. Geen mens, ongeag wie jy is, waar jy vandaan kom, wat jou velkleur is, verdien om so te leef nie. Net daar en dan het ek die warm sop gevat, oorgeskep in 'n 2 liter Ola roomys bak en ek en my man is met 'n Checkers brood en die sop oppad kar toe. Albei van ons haal ons trouringe af, ek bêre my oorbelle in die cabuel, want die onsekerheid van wie en wat hierdie mense is maak my baie senuweeagtig. Is ons veilig? Gaan hul oop wees vir hulp? Gaan hul ons verstaan? Ons stop onder die brug en klim huiwerig uit. Hier sit die einste man, maar dis nie net hy nie. Langs hom lê 'n man onder 'n sak, op die harde grond. Skielik sluit nog drie ander by ons aan. My man neem die leiding en begin 'n gesprek met hulle en nie lank nie, toe gesels ons almal lekker saam oor wie hulle is, waar hulle vandaan kom, terwyl hul smul aan hierdie "lang-voorbereide" patat sop. Maar dis die man onder die sak wat my aandag trek. Hy eet nie saam die res nie en praat ook nie saam nie. Sy vriend probeer hom voer, maar hy kan nie eers sy kop oplig nie. Sy storie ruk ons albei diep in ons binneste. Die man is al vir 'n rukkie dodelik siek en ek kan die vrees en seer in sy oë sien. Waarheen gaan hy? Wie kyk na hom? 'n Man, vroeë twintigs. Geen heenkome, geen medikasie, geen mamma wat vanaand sy bors met Vicks kan smeer en kort-kort seker maak hy is okay nie. Net 'n yskoue vloer, 'n nat karton boks (wat eens 'n yskas se verpakking was) en 'n plaag rotte, amper so groot soos my Jack Russel wat aan die stink rommel knaag. Ons het die mans so gelos, met die 2 liter Ola roomysbak vol sop en brood en teruggekeer na ons warm huisie, 'n warm stort gevat en ons honger gestil met 'n snytjie brood en botter. Hierdie laaste ruk, dink ek baie aan die seisoene in ons lewe. En hoe van pas, aangesien ons juis nou in 'n nuwe seisoen in beweeg. So 'n klein, eenvoudige soet patat sop het my net weereens perspektief oor die bittere koue lewe daar buite gegee. Vir al julle Loskopdollas daar buite, hier is die heerlike soet patat sop resep. Ek het een van die beste "food-critics" vanaand gehad wat vir my gesê het: "Madam, this is the best soup I ever had." Gebraaide Patat en Wortel Sop
Bestandele: 500g patats, geskil en in blokkies gesny 300 g wortels, geskil en in skywe gesny 3 eetl. olyf olie 2 uie, fyn gekap 2 knoffel huisies, fyngekap 1 l groente aftreksel 100 ml vars room en ekstra om te bedien Metode: 1. Voorverhit die oond tot 220°C en plaas die wortels en patats in 'n groot oondbak, sprinkel met 2 eetl. olyf olie en baie speserye. Braai die groente in die oond vir 25-30 min of tot dit karameliseer en sag is. 2. Terwyl die wortels en patats in die oond is, braai die uie in 'n diep sous-pan, in 1 eetl. olyf olie oor 'n medium hitte vir 10 minute tot sag. Voeg die knoffel by en roer vir 1 min, voor die aftreksel bygevoeg word. Prut vir 5-10min tot die uie baie sag is. 3. Sodra die groente reg is, laat dit effens afkoel en plaas dit dan in die sous-pan en gebruik 'n hand-voedselverwerker om die bestandele te verwerk tot 'n gladde puree. Meng die varsroom in, ekstra speserye (na smaak) en verhit. Bedien in bakkies met 'n teelepel varsroom ingemeng en 'n tikkie swartpeper bo-op. (Recipe from Good Food magazine, September 2015) PS- Aangesien kosmaak my swakste eienskap is (en dit glad nie my passie is nie), het ek als sommer geprosseseer en in die "slow-cooker" gegooi. My redding meeste dae!
0 Comments
Leave a Reply. |