Elke dag word mens gekonfronteer met minderbevoorregte mense wat absoluut niks het nie. Geen kos, geen klere, geen heenkome, geen familie. Ons sien hul op die straathoeke, ons loop verby hul in die parkeer areas. Ons jaag hul weg by ons voordeur en ons kyk met oë van minagting na hulle. Soms sien ons hoe die mamma met "haar pap babatjie" in die bloedige hitte of die bittere koue by die robot staan en dit lyk kompleet of die kind nie by sy volle bewussyn is nie. Terselfdetyd sien ons die man met die verslete klere wat enige werk sal vat net om 'n brood vanaand op die tafel te kan sit. 'n Man wat met sy grappies probeer bedel. Die "leer-vel" vrou, wat 20 jaar ouer lyk as wat sy werklik is, die vuil-gesig kind wat kom sente vra met sy sterk-drank asem. Op die koudste wintersnagte, sien mens die haweloses wat slaap onder 'n papnat boks in die hoop dat hul net 'n klein bietjie liggaamshitte kan spaar om dit deur die nag te maak. Maar die vraag waarmee almal 'n innerlike stryd voer - Sukkel hierdie mense regtig? Wanneer ek geld gee, gaan dit vir die regte redes? Kan ek 'n los werkie aanbied vir hierdie man wat enigiets sal doen om 'n brood op die tafel sit? Ek weet nie. En die mees onregverdigste probleem waarmee ons tans sit, is dat daar mense daar buite is wat werklik hulp nodig het, maar die meerderheid dwelmverslaafdes, alkoholverslaafdes, prostitute en "voorgee" bedelaars, het enige hulp vir hierdie mense kom vernietig. Ek het op 'n punt gekom waar ek besluit het, dit is tyd om 'n verskil te maak. Tyd om te gee en ontslae te raak van my selfsug. Nie noodwendig in materiële waarde nie, maar tyd, aandag en geselskap. Daar is 'n bekende slagspreuk wat sê: "Charity begins at home." Ek stem volkome saam, maar watse "charity"? Wanneer ek die woord hoor is die eerste ding waaraan meeste mense dink, kospakkies, klere, donasies... Ek dink dit is baie meer as dit. Daarom het ek betrokke geraak by 'n gemeenskap. 'n Gemeenskap wat bestaan uit oor die 300 volwassenes en meer as 80 kinders. Kinders sonder opvoeding, mammas en pappas sonder werk en bejaardes sonder enige familie. Huise word gebou uit enige materiaal wat hul kan bekostig. Meeste kan nie eers bekostig om hul eie badkamers te hê nie en daarom moet hul maar gelukkig wees met 'n yskoue stort of 'n vuil bad. Daar is dae waar mammas of pappas nie weet waar die volgende ete vandaan gaan kom nie, al verdien hul "kleingeld" vir die werk waarvoor hul 'n geleentheid gekry het. Meeste van die "kleingeld" gaan vir huur vir 'n stukkie land net sodat hul 'n heenkome vir hul kinders kan bied. Dit het my 'n week of twee gevat om kinder serpies uit polar fleece finaal klaar te maak en om komberse vir die oumensies te kry. Dit was reeds die begin van winter waar die koue vroeg vroeg inkom net so voor die son sak. Hier het ek twee besonderse vroue leer ken. Vroue wat die dagsorg hardloop vir geen salaris. Die vroue wat elkeen op die perseel by die naam ken. Twee vroue wat presies weet wie trek swaar en wie het wat nodig. My eerste stop was by die mooiste blonde kop seuntjie. Vuil neusie, stukkende kleertjies, maar ogies wat blink. Dadelik het hy sy handjies uitgesteek sodat ek hom moes optel en die blou serpie het sy mooi blou ogies, net meer laat blink. Buiten dat my hart smelt vir enige ou kindjie, het ek 'n baie sagte plekkie vir oumensies. Die dag, het ek 'n pad met hulle begin stap. Die oom met die klein "speel" bybeltjie het die voorreg gehad om eerste 'n kombers te kies. Die manier hoe sy gesig opgehelder het toe ek vir hom sê, vandag kan hy sy gunsteling kleur kombers kies, het my laat besef, hoe min keuses hy rêrig op die stadium het. Hy is moet maar net gelukkig wees met wat hy kry, en hy is. In plaas daarvan dat ek hom geseën het met 'n kombers, het hy my geseën met iets, wat selfs van die rykstes nie kan bekom nie. Dit was sy opregte woorde en dankbaarheid. "Mag die Here jou seën my kind. Die Here is tog so goed vir my." Wow, hierdie persoon het sy eie lewensverhaal, dalk van pyn en smart, geen familie, geen huis, maar hy het hierdie mooi hart. Al wat die oom benodig, is omgee, geselskap, 'n behoefte om weer iets te beteken vir die lewe. Elke liewe mens het 'n behoefte daaraan om te "behoort". Ek het daarna nog kindertjies gaan toedraai in serpies en nog oumensies gaan toegooi met komberse, maar die oom se woorde het in my gedagtes en my siel ge-ego. Wie is jy en waar kom jy vandaan? Waar is jou mense en wat is jou lewensverhaal?
Ek het alles in oorvloed. Soms dink mens jou probleme is die einde van die wêreld, maar dan ontmoet jy mense wat jou terugruk aarde toe. Die ironie van dit alles is, ek het gegaan om 'n verskil te maak en iemand aan te raak, maar ek het daar uitgestap waar iemand 'n verskil in MY lewe gemaak het, en my aangeraak het. En steeds gee ek net my "oorbly" tyd as ek nie te besig is nie... "Dis wanneer jy met 'n oop hart gee, wat jy die eintlike een is wat in oorvloed ontvang."
1 Comment
|