Teen die tyd weet almal van die “amper-30-sindroom.” Ek het nooit nie, tot ek onlangs begin besef het hoe baie ek verander het... Ek het gewonder waarom ek so particular is oor sekere goed en waarom ander goed my nie in die minste pla nie. En dit het my tussen die oë geslaan tot ‘n harde realiteit! Dit is die laaste tydjie voor ek die groot “Drie-Nul” slaan. .
Ouderdom het my nog nooit gepla nie en ek gaan ook nie dat dit my anytime soon begin pla nie. Nee wat... My motto in die lewe? “Age is just a number.” Buitendien, jy is so oud soos jy voel! Alhoewel dit my nie pla dat ek amper ‘n derde van ‘n eeu oud word (of kom ons sê eerder, drie dekades oud word) nie, het dit al meeste mense om my gepla. Veral die girls... So ek het lank gaan dink of ek saamstem met die samelewing, met die klomp mense, met dit wat “hulle” sê. Uuuhmm... Nee... Ek stem nie saam nie en ek gee ook nie om nie. Om 30 te word is ‘n mylpaal. Dis nog ‘n lewensjaar wat die Here tot jou lewe toegevoeg het. Dis nog ‘n jaar van ervaring, van kennis, van val en opstaan en van die mooiste herinneringe. Kom ek brei meer uit oor die “dinge” wat ander mense of die samelewing pla. Ek is amper 30 en is nog nie ‘n mamma nie! Ja, ok... Meeste girls het my al vertel oor die nadele van ouer wees en swangerskap... (Let wel: Diegene het almal mos ‘n Meesters in dié veld.) Elkeen se lewe is vooruit beplan. Niemand s’n is dieselfde nie. Sommige vroue bid elke dag vir ‘n kleine lyfie en ander vroue wag vir die regte tyd... Hoe dit ookal sy, MIN mense is sensitief tot hierdie saak. Wanneer ‘n ander vrou ‘n mamma wil (of kan) word, is en bly haar saak. In my geval, wel... dis my geheim. Ek is amper 30 en sukkel soms om kop bo water te hou. Die lewe is duur! Dis nie net ‘n student wat met tye toebroodjies moet eet nie. Wanneer mens nog jonk en dom is dink jy, jy gaan in weelde lewe die dag wanneer jy ‘n salaris verdien. Sommer my droom kar koop met daardie eerste paycheck. Ek het hard en vining geleer dat dit nie realiteit is nie en dat realiteit eintlik maar hard en swaar is. En dis ook okay! Dis okay om eerlik te wees en vir ‘n vriendin nee te sê, as jy die maand in die knyp is. Dis ok om nie die grêndste, die nuutste of die beste te hê nie. Op die ou einde besef jy dat jy tog elke nuwe pay-day gemaak het en die struggles oorleef het. Ek is amper 30 en ek weet steeds nie wat ek met my lewe wil maak nie. En hierdie een het my LANK gepla. Meeste mense in dieselfde ouderdomsgroep (of selfs nog jonger) wat established is, wat ‘n sukses van hul lewens maak, wat career driven is en in lyn staan om die volgende CEO te wees het 'n hele ander uitkyk as ek. En dis soms dié mense wat neerkyk op jou, juis omdat jy “anders” is. Ek dink anders is cool! In my geval, “Jack of all trades... Master of ... many!” Om alewig dieselfde ding te doen wat glad nie uitdagend is nie, verveel my tot in my verste, diepste siel in. Ek is amper 30 en voel steeds soos ‘n kind. Ons almal word eendag groot, maar ek weet net nog nie wanneer nie. “Adulting is difficuilt!” Verantwoordelikhede raak by die dag meer en dít is die vloekwoord van volwassenheid. Wie sê ons kan nie maar almal nog kinders wees nie? Glo soos ‘n kind... Lag soos ‘n kind... Die onskuldigheid van ‘n kind, maak die wêreld ‘n beter plek. Ons kan meer daarna streef om soos ‘n kind te wees. Ek is amper 30 en ek het ‘n handjie vol harstmense. Vriende, vriendinne en geliefdes kan ek op my twee hande tel. Dis mense wat nog altyd daar was, altyd daar sal wees en ‘n verskil in my lewe maak. Met tyd saam, verbrokkel vriendskappe, familie word vreemdelinge en mens probeer alles in jou vermoë om hierdie loosing battle te fight. Maar later besef jy, die twee-handjies vol mense, is al wat jy nodig het om jou lewe vol te maak. Jy leer om ontslae te raak van die gif in jou lewe. Ek is amper 30 en het nog nooit die perfekte lyf gehad nie. Ek het altyd gesê, eendag wil ek die perfekte lyf hê. Al is dit net een keer, vir ‘n rukkie lank in my lewe. Maar dit voor ek 30 is. En nee... Ek was nog nie so gelukkig nie en ek het nogsteeds ‘n gebrek aan deursettingsvermoë as dit by hard oefen en gesond eet kom. Ek het daardie een maar laat vaar, maar ek is gelukkig met wie en wat ek is. Ek is amper 30 en kan nog nie behoorlik kook nie. Ek is ‘n ramp in die kombuis. Ek dink altyd ek gaan ‘n nuwe dis probeer, maar tot my (en my man) se teleurstelling, kom dit of gebrand, of te sout, of net pleinweg sleg uit. Ek het vrede daarmee gemaak dat ek nie die beste kok is nie en hou myself maar by die alledaagse spaghetti bolognaise of ‘n hoender in die oond. Ek kon vrede daarmee maak die dag toe ek eerlik was met myself, dat kosmaak nie vir my ‘n passie en plesier is nie. Nie elke vrou hoef Masterchef disse voor te sit nie. Ek is amper 30 en het ‘n geheime liefde vir Afrikaanse kinderstories. Dis die nostalgie van Moomin, Pinocchio en Heidi wat my aangryp en maak nie saak hoe oud ek is nie, ek sal altyd ‘n liefde daarvoor hê. Dit herinner my aan vroeë oggende voor skool, tuisgemaakte pap (net soos Ouma dit kon maak), vrugte en yoghurt, Oupa se daaglikse koerant en warm liefde wat nooit vervang kon word nie. Soms wanneer mens verlang na jou kinderdae is dit die beste medisyne om dingetjies uit jou kinderdae weer te doen. Ongeag van al die bogenoemde goed wat ek NOG nie het of bemeester het voor die ouderdom van 30 nie, het ek al geleef, geleer en soveel wêreld ervaring opgedoen. Mens is nooit te oud om te leer nie. Ek is opgewonde om steeds net te “wees”, te ervaar en content te wees met die feit dat “tyd sal leer.”
0 Comments
Leave a Reply. |